design@atgrafics.co.za

22 Oktober 2023

Die vraag oor die betaal van belasting
(Mark. 12:13-17; Luk. 20:20-26)
15
Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ‘n vraag in ‘n val te lok.
16
Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ‘n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.
17
Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”
18
Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My ‘n strik?
19
Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”
Hulle bring toe die muntstuk vir Hom,
20
en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”
21
“Die keiser s’n,” antwoord hulle.
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
22
Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.


22 Oktober 2023 Read More »

11 September 2022

11 Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word:
‘n Gloeiende wind kom oor die heuweltoppe
uit die woestyn uit op my volk af,
maar nie om die kaf weg te waai en die koring skoon te waai nie.

12 Ek bring die wind in sy volle krag oor hulle,
Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.

22 My volk tree dwaas op, hulle erken My nie,
hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen.
Hulle is net slim as dit kom by verkeerddoen,
van goeddoen wil hulle niks weet nie.

23 Ek het na die land gekyk, en dit was onbewoonbaar,
na die hemel, en die lig was daaruit weg;

24 ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe,
na al die heuwels, en hulle het geskud.

25 Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,
selfs die voëls het weggevlieg.

26 Ek het gekyk, en die vrugbare grond het in woestyn verander,
al die stede het in puin gelê.
Dit is die Here wat dit in sy gloeiende toorn gedoen het!

27 Ja, so sê die Here:

Die hele land sal verwoes wees,
maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.

28 Daaroor moet die aarde treur
en die hemel daarbo donker word,
want Ek het my voorneme bekend gemaak,
Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie.

11 September 2022 Read More »

14 Augustus 2022

Jesus die oorsaak van die verdeeldheid
(Matt. 10:34-36)

49 “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!
50 “Maar daar is ‘n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is! 51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, 52 want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. 53 Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”

Die tekens beoordeel
(Matt. 16:2-3)

54 Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. 55 En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. 
56 Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”

14 Augustus 2022 Read More »

24 Julie 2022

Onderrig oor die gebed
(Matt. 6:9-15; 7:7-11)

1 Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
2 En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:

“Vader, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom.
3 Gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4 en vergeef ons ons sondes,
want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie.”

5 Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6 want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7 En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie …’ 
8 Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
9 “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11 Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis?

24 Julie 2022 Read More »

5 Junie 2022

Ek wil my in die Here verbly

1 Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2 U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan
3 en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4 U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5 U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.

6 Die groot waters het die aarde soos ‘n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7 Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug,
voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.
8 Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U vir hulle bestem het.
9 U het ‘n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde nie weer oordek nie.

10 U laat fonteine in die valleie ontspring
en tussen die berge deur stroom.
11 Daar kom al die wilde diere drink
en die wildedonkies hulle dors les.
12 Die voëls maak hulle neste langs die water
en kwetter tussen die takke.
13 Uit die hemel laat U dit op die berge reën,
die aarde word versadig deur die reën wat U gee.
14 U laat gras uitspruit vir die diere,
en groen plante vir die mens
sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15 wyn om mense se harte bly te maak,
olie om die gesig te versorg,
kos om die mens nuwe krag te gee.
16 Die bome van die Here kry volop reën,
die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,
17 waar die voëls hulle neste maak,
en die reier sy huis in die boomtoppe bou.
18 Die hoë berge is ‘n tuiste vir die klipbokke,
die rotse is ‘n skuilplek vir die dassies.
19 U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,
die son weet wanneer om onder te gaan.
20 As U die donker bring en dit nag word,
roer al die diere in die bos.
21 Die leeus brul op soek na prooi:
hulle vra hulle kos van God.
22 As die son opkom, sluip hulle weg
en gaan lê in hulle skuilplekke.
23 Dan gaan die mens na sy werk toe,
en hy werk tot die aand.
24 U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25 Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26 Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27 Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28 U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.
29 Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30 U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.

31 Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32 Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33 Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.

34 Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

35 Mag die sondaars van die aarde af verdwyn,
mag die goddeloses ophou om te bestaan!

Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

5 Junie 2022 Read More »

15 Mei 2022

Openbaring 21 : 1 – 6
Die nuwe hemel en die nuwe aarde

1 Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 

2 En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
3 Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 
4 Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

5 Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”
6 Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

15 Mei 2022 Read More »

27 Februarie 2022

12 Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op. 13 Ons is nie soos Moses wat sy gesig met ‘n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was. 14 Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo. 15 Maar vandag nog, elke keer as die wet van Moses voorgelees word, is daar ‘n sluier oor hulle verstand. 16 Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” 17 “Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. 18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Die apostels verkondig Jesus Christus, die Here

1 God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. 2 Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ‘n eerlike gewete het.

27 Februarie 2022 Read More »

20 Februarie 2022

50 Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. 51 Kyk, ek maak ‘n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52 By die laaste trompet sal dit in ‘n oomblik, in ‘n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53 Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.
54 En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”
55 “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

56 Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57 Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.
58 Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

20 Februarie 2022 Read More »

2 Februarie 2022

Die opstanding van Christus

1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5 Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6 en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9 Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 
10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is

2 Februarie 2022 Read More »

30 Januarie 2022

Die tyd van sy optrede

1 Die woorde van Jeremia. Hy was ‘n seun van Gilkija en ‘n priester uit Anatot in Benjamin.
2 Die woord van die Here het tot hom gekom tydens die regering van koning Josia van Juda, seun van Amon. Dit was in die dertiende regeringsjaar van Josia. 3 Daarna het die woord van die Here tot Jeremia gekom tydens die regering van koning Jojakim van Juda, seun van Josia, en telkens tot die einde van die elfde regeringsjaar van koning Sedekia van Juda, seun van Josia. In die vyfde maand van daardie jaar is die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Jeremia word tot profeet geroep

4 Die woord van die Here het tot my gekom:
5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

6 “Ag, Here my God,” het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7 Toe sê die Here vir my:

Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.
8 Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou, Ek sal jou red.

Dit is wat die Here gesê het.

9 Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

10 Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

30 Januarie 2022 Read More »